Eksodus 15:9-27 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

9. Die vyand het gesê: ‘Ek sal agtervolg, inhaal, die buit verdeel, my begeerte sal oor hulle versadig word; ek sal my swaard uittrek, my hand sal hulle vernietig.’

10. U het met U asem geblaas en die see het hulle toegedek; soos lood het hulle gesink in die magtige waters.

11. יהוה, wie is soos U onder die gode? Wie is soos U, groot in afgesonderdheid, eerbiedwaardig in lofprysing, in die doen van wonderwerke?

12. U het U regterhand uitgesteek, die aarde het hulle ingesluk.

13. U het deur U onverdiende guns die volk wat U losgekoop het uitgelei; U het hulle deur U sterkte na U afgesonderde blyplek gelei.

14. Die volke het dit gehoor en hulle bewe; angs het die inwoners van P’leshet aangegryp.

15. Toe het die hoofde van Edom van binne gebewe, bewing het die magtiges van Mo’av beetgekry. Al die inwoners van Kena’an het weggesmelt.

16. Vrees en verskrikking het op hulle geval; deur die grootheid van U arm was hulle bewegingloos soos ’n klip terwyl U volk deurtrek; terwyl die volk wat U, יהוה, losgekoop het, deurtrek.

17. U bring hulle en plant hulle op die berg van U erfenis, in die plek, יהוה, wat U vir Uself as blyplek gemaak het, die Afgesonderde Plek wat U hande daargestel het, my Meester!

18. יהוה sal regeer vir ewig en ewig,

19. want Farao se perde, met sy strydwaens en ruiters, het in die see ingegaan en יהוה het die waters van die see oor hulle laat terugkom, maar die seuns van Yisra’el het op droë grond deur die see geloop.”

20. Miryam, die profetes, die suster van Aharon, het ’n tamboeryn in haar hand gevat en al die vroue het agter haar uitgegaan, met tamboeryne en danse.

21. Miryam het hulle geantwoord: “Sing tot eer van יהוה, want Hy is hoog verhewe. Hy het die perd met sy ruiter in die see gegooi.”

22. Moshe het die Yisra’eliete verder gevat van die Sufsee af en hulle het uitgetrek in die wildernis van Shur in. Hulle het drie dae lank in die wildernis ingetrek en geen water gekry nie.

23. Toe hulle by Marah kom, kon hulle die water van Marah nie drink nie, want dit was bitter; daarom het die plek die naam, Marah.

24. Toe kla die volk teen Moshe en sê: “Wat moet ons drink?”

25. Hy het uitgeroep na יהוה en יהוה het vir hom ’n boom gewys. Toe hy dit in die water gegooi het, is die water soet gemaak. Daar het Hy vir hulle wette en riglyne geleer en hulle daar beproef

26. en gesê: “As julle getrou na die stem van יהוה, julle God, luister en doen wat reg is in Sy oë, luister na Sy opdragte en al Sy wette hou, dan sal Ek geeneen van die siektes op jou lê wat Ek op die land van Mitzrayim gelê het nie, want Ek, יהוה, is die Een wat jou gesond maak.”

27. Hulle het by Eilim gekom, waar twaalf waterfonteine en sewentig palmbome was en het daar, by die water, kamp opgeslaan.

Eksodus 15