22. Almal van julle het na my toe gekom en gesê: ‘Laat ons manne voor ons uitstuur sodat hulle vir ons die land kan verken en aan ons berig kan bring aangaande die pad waarlangs ons moet optrek en van die stede waarin ons sal kom.’
23. Die saak was goed in my oë sodat ek twaalf man vanuit julle, een man uit elke stam, gevat het.
24. Hulle het weggedraai en opgegaan in die bergland, tot by die vallei van Eshkol en dit verken.
25. Hulle het van die vrugte van die land in hulle hand geneem en dit na ons toe afgebring en aan ons verslag gedoen en gesê: ‘Die land wat יהוה, ons God, aan ons gee, is goed.’
26. Nogtans wou julle nie optrek nie, maar julle het teen die opdrag van יהוה, julle God, gerebelleer
27. en in julle tente gemurmureer en gesê: ‘Omdat יהוה ons haat, het Hy ons uit Mitzrayim uitgelei om ons in die hand van die Emoriete oor te gee, om ons te vernietig.
28. Waarheen moet ons optrek? Ons broers het ons verstand, wil en emosie laat smelt deur te sê: “Dit is ’n volk groter en langer as ons; die stede is groot en tot aan die hemel versterk en boonop het ons ook die seuns van die `Anakiete daar gesien.’”
29. Ek het vir julle gesê: ‘Moenie geskok wees of bang wees vir hulle nie,
30. יהוה, julle God, wat voor julle uitgaan, Hy sal vir julle baklei net soos Hy voor julle oë vir julle in Mitzrayim gedoen het
31. en in die wildernis, waar julle gesien het hoe יהוה, julle God, jul gedra het soos ’n man sy seun dra, op die hele pad wat julle geloop het totdat julle tot by hierdie plek gekom het.’
32. Tog, na al hierdie dinge, het julle nie vertrou in יהוה, julle God,
33. wat voor julle uit getrek het op die pad om vir julle ’n plek uit te soek om julle kamp op te slaan, om die pad vir julle te wys waar julle moet gaan, snags deur die vuur en bedags deur die wolk, nie.
34. יהוה het die klank van julle woorde gehoor en Hy was kwaad en het gesweer en gesê:
35. ‘Nie een van die manne van hierdie bose geslag, sal daardie goeie land sien wat Ek met ’n eed beloof het om aan julle vaders te gee nie,
36. behalwe Kalev, die seun van Y’funneh; hy sal dit sien en aan hom en sy kinders gee Ek die land waarop hy geloop het omdat hy יהוה ten volle gevolg het.’
37. יהוה was ook kwaad vir my as gevolg van julle en het gesê: ‘Selfs jy sal nie daar ingaan nie.
38. Y’hoshua, die seun van Nun, wat voor jou staan, hy sal daar ingaan; bemoedig hom, want hy sal Yisra’el dit laat erf.
39. Meer nog, julle kleintjies en julle seuns, van wie julle gesê het: ‘Hulle sal ’n buit word,’ wat vandag geen kennis van goed of kwaad het nie, húlle sal daar ingaan, aan hulle sal Ek dit gee en húlle sal dit in besit neem,
40. maar julle, draai om en vertrek na die wildernis op die pad na die Sufsee.’