14. maar Ek sal hom ’n heerser maak in My huis en in My koninkryk vir ewig en sy troon sal vir ewig vasgestel word.”
15. Volgens al hierdie woorde en volgens hierdie visioen, so het Natan met Dawid gepraat.
16. Koning Dawid het gekom en in die Teenwoordigheid van יהוה gaan sit en gesê: “Wie is ek in U Teenwoordigheid, יהוה-God en wat is my huis, dat U my tot hierdie verhewe plek gebring het?
17. Tog was dit iets kleins in U oë, o יהוה-God sodat U ook aangaande die huis van U dienskneg gepraat het tot ver in die toekoms, want almal wat U dien met hulle hele verstand, wil en emosie, bring U uit die duisternis in die lig, o יהוה-God!
18. Wat kan Dawid nog roem om in U Teenwoordigheid te praat, want die werke van U dienskneg is bekend, o יהוה-God?
19. U weet wat in die verstand, wil en emosie van U dienskneg is, dat U vir hom al hierdie grootheid gedoen het deur U dienskneg groot te maak;
20. daarom weet ek, o יהוה-God, dat daar niemand is soos U nie en dat daar geen God is behalwe U nie, volgens alles wat ons met ons ore gehoor het.
21. Watter ander nasie op aarde is verenig soos U volk, Yisra’el? U het Uself vanaf die hemele openbaar en hulle gered en om hulle ontwil het U groot en wonderbaarlike wonders gedoen en ernstige plae op die Mitzrayiete gebring totdat U hulle onder hulle uitgebring het,
22. want U het U volk Yisra’el U ewige volk gemaak en U, o יהוה, het hulle God geword.
23. Laat daarom nou, o יהוה, die woord wat U aangaande U kneg en sy huis gepraat het, vasgestel word vir ewig en doen soos U gesê het
24. en laat U werke vir ewig bevestig word en U Naam vir ewig in die wêreld opgelig word sodat die mense sal sê: ‘יהוה-Tzva’ot is die God van Yisra’el’ en laat die huis van Dawid, U dienskneg, vir ewig voor U bevestig word,
25. want U, my God, het U geheim aan U dienskneg openbaar en vir hom gesê: ‘Bou vir jouself ’n huis;’ daarom het U dienskneg in sy binneste besluit om hierdie gebed in U Teenwoordigheid te bid.
26. Nou, o יהוה, U is God en al U woorde is waar, waarmee U al hierdie goedheid aan U dienskneg belowe het.
27. Openbaar Uself dan nou deur die huis van U dienskneg te seën, dat dit altyd voor U sal wees, want U, o יהוה, het gepraat en deur U seëning sal al die huise van regverdiges altyd geseënd wees.”