21. Shlomo het die huis van binne met suiwer goud oorgetrek en hy het goue kettings gemaak voor die binnevertrek, wat hy met goud oorgetrek het.
22. Hy het die hele huis met goud oorgetrek totdat die hele huis voltooi was. Ook die hele altaar wat by die binnevertrek hoort, het hy met goud oorgetrek.
23. Hy het ook in die binnevertrek twee gérubs gemaak van olyfhout, elkeen tien el hoog.
24. Die een vlerk van die gerub was vyf el en vyf el die ander vlerk van die gerub; tien el van die punt van een vlerk tot by die end van die ander.
25. Die ander gerub was tien el; altwee die gérubs was van een maat en een vorm.
26. Die hoogte van die een gerub was tien el en net so die ander gerub.
27. Hy het die gérubs in die middel van die binnevertrek gesit en die vlerke van die gérubs was uitgesprei sodat die vlerk van die een aan die een muur en die vlerk van die ander gerub aan die ander muur raak terwyl hulle vlerke in die middel van die vertrek aan mekaar raak.
28. Hy het ook die gérubs met goud oorgetrek.
29. Toe het hy al die mure van die huis rondom, die binne- en die buitevertrek, met figure van gérubs, palmbome en oop blomme laat ingraveer.
30. Hy het die vloer van die huis, die binne- en buitevertrek, met goud oorgetrek.
31. Vir die ingang van die binnevertrek het hy deure van olyfhout gemaak. Die latei en die deurraam was ‘n vyfde van die muur.
32. Hy het twee deure gemaak van olyfhout en daarop het hy figure van gérubs, palmbome en oop blomme laat ingraveer en dit met goud oorgetrek en hy het die goud oor die gérubs en die palmbome uitgespan.