1 Konings 14:7-17 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

7. Gaan sê vir Yarov’am: ‘So sê יהוה, die God van Yisra’el: aangesien Ek jou van tussen die mense af opgelig en jou leier oor My volk Yisra’el gemaak

8. en die koninkryk van die huis van Dawid af weggeskeur en dit vir jou gegee het; [tog was jy nie soos My kneg Dawid, wat opdragte gehou en My met sy hele verstand, wil en emosie gevolg het, om net te doen wat reg is in My oë, nie;

9. jy het ook meer boosheid gedoen as almal wat voor jou was en vir jou ander gode en gegote beelde gaan maak om My te tart tot woede en My agter jou rug gegooi]

10. daarom, let op, Ek bring onheil oor die huis van Yarov’am en sal van Yarov’am af afsny al wat manlik is in Yisra’el, beide slaaf en vryman en Ek sal die huis van Yarov’am skoonvee soos ’n mens mis wegvee totdat daar niks van oor is nie.

11. Enige een wat aan Yarov’am behoort wat in die stad sterf, hom sal die honde eet en hom wat in die veld sterf, sal die voëls van die hemel eet, want יהוה het dit gesê.’

12. Staan op, gaan na jou huis toe. Wanneer jou voete die stad ingaan, sal die seun sterf.

13. Die hele Yisra’el sal oor hom rou en hom begrawe, want hy alleen van Yarov’am se familie sal na die graf toe kom omdat in die huis van Yarov’am in hom iets goeds gevind is teenoor יהוה, die God van Yisra’el.

14. Meer nog, יהוה sal vir Homself ’n koning oor Yisra’el opwek wat die huis van Yarov’am op dié dag sal uitwis en van nou af aan.Deut 16:21-22

15. יהוה sal Yisra’el slaan, soos ’n riet in die water heen en weer geskud word en Hy sal Yisra’el ontwortel uit hierdie goeie land uit wat Hy vir hulle vaders gegee het en hulle anderkant die Rivier (Eufraat) verstrooi omdat hulle hul Asherah beelde gemaak en יהוה tot woede getart het.

16. Hy sal Yisra’el opgee vanweë die sondes van Yarov’am wat hy gedoen het en waardeur hy Yisra’el laat sondig het.”

17. Toe het Yarov’am se vrou opgestaan en weggegaan en in Tirtzah gekom. Onderwyl sy oor die drumpel die huis binnegaan, het die jongman gesterf.

1 Konings 14