Spreuke 27:6-11 Die Boodskap (DB)

6. Harde woorde van ’n goeie vriend is goed bedoel. Oordrewe vriendelikheid van mense van wie jy nie hou nie, is oneg.

7. Iemand wat genoeg geëet het, is vir niks meer lus nie. Vir iemand wat baie honger is, is selfs die slegste kos lekker.

8. Soos ’n voëltjie van sy nes verjaag word en verlore rondvlieg, so is ’n mens wat sy familie en vriende verlaat en eensaam rondswerf.

9. Mooi dinge maak ons bly. Maar ’n goeie vriendskap gee ons moed vir die lewe.

10. Vriendskappe is kosbaar. Moenie jou vriend of jou pa se vriendekring sommer verlaat nie.

11. As jy probleme het, soek hulp by jou buurman. ’n Buurman wat naby is, is beter as ’n broer wat ver woon. ’n Jongmens wat weet hoe om reg te leef maak sy pa en ma gelukkig. Hy is ’n bewys dat hulle opvoeding geslaag het.

Spreuke 27