Rigters 4:4-8 Die Boodskap (DB)

4. Debora, die vrou van Lappidot, was op daardie stadium die leier van die Israeliete. Sy was ook ’n profeet.

5. Sy het altyd onder die palmboom van Debora tussen Rama en Bet-El in die berge van Efraim gesit. Daar het die Israeliete na haar toe gekom om raad te vra en om hulle te help om hulle probleme op te los.

6. Op ’n dag het sy vir Barak uit Kedes in Naftali laat roep. Hy was Abinoam se seun. Sy sê toe vir hom: “Hierdie opdrag kom van die Here die God van Israel: Maak vir jou 10 000 soldate bymekaar uit die stamme van Naftali en Sebulon en trek met hulle na die berg Tabor toe.

7. Ek sal Sisera, die hoof van Jabin se weermag, met al sy strydwaens en sy soldate teen jou laat uittrek om teen jou te kom oorlog maak by die spruit Kison, maar Ek sal hom in jou mag oorgee.”

8. Toe het Barak haar geantwoord: “Ek sal op een voorwaarde gaan, en dit is dat jy saam met my gaan. So nie, bly ek net hier!”

Rigters 4