Rigters 15:9-16 Die Boodskap (DB)

9. Die Filistyne het toe kamp gaan opslaan in Juda en strooptogte teen die dorp met die naam Legi uitgevoer.

10. Toe vra die mense van Juda vir die Filistyne: “Waarom val julle ons aan?”Hulle antwoord was: “Om vir Simson vas te trek en hom terug te betaal vir wat hy aan ons gedoen het.”

11. Toe gaan 3 000 mense van Juda na die grot toe by Etam en hulle vra vir Simson: “Besef jy nie dat die Filistyne oor ons heers nie? Wat doen jy aan ons?”Hy het hulle geantwoord: “Ek het hulle net terugbetaal vir wat hulle aan my gedoen het.”

12. Hulle sê toe vir hom: “Wel, ons het jou kom haal om jou aan die Filistyne uit te lewer.” Toe sê Simson vir hulle: “Belowe my eers julle sal my nie doodmaak nie.”

13. “Goed,” het hulle gesê, “ons belowe ons sal jou net boei en aan die Filistyne uitlewer. Ons wil jou nie doodmaak nie.” Hulle het hom toe met twee nuwe toue vasgebind en van die grot by die rots van Etam af weggevat.

14. Toe hy in Legi aankom, het die Filistyne van blydskap gejuig en op hom afgestorm. Maar die Gees van die Here het vir Simson sterk gemaak en hy het die toue om sy arms gebreek asof hulle garingdraadjies was. Dit het gelyk of die boeie sommer van sy hande afval.

15. Simson het die kakebeen van ’n donkie wat daar gelê het, opgetel en 1 000 Filistyne daarmee doodgeslaan.

16. Simson het toe spottend gesê: “Met ’n donkie se kakebeen het ek ’n hopie niks van hulle gemaak. Met ’n donkie se kakebeen het ek 1 000 mense doodgemaak.”

Rigters 15