Rigters 1:20-27 Die Boodskap (DB)

20. Soos Moses vroeër beveel het, het Kaleb die dorp Hebron gekry. Hy het die mense verdryf wat daar gebly het. Hulle was die nakomelinge van die drie seuns van Enak.

21. Die Benjaminiete kon nie daarin slaag om die Jebusiete, wat in Jerusalem gebly het, te verslaan nie. So het dit gekom dat die Jebusiete van toe af saam met hulle in Jerusalem bly woon het.

22. Die Here het die afstammelinge van Josef gehelp toe hulle Bet-El aangeval het.

23. Hulle het verkenners Bet-El toe gestuur. Vroeër was Bet-El ook bekend as Lus.

24. Hulle het ’n man uit die stad sien kom en vir hom gesê: “As jy ons wys hoe om die stad in te neem, sal ons jou goed behandel.”

25. Hy het hulle toe gewys wat die beste manier sou wees om dit te doen. Die afstammelinge van Josef het toe die stad ingeneem en al die mense daarin doodgemaak, behalwe hierdie man en sy familie.

26. Hierdie man het later na die gebied van die Hetiete toe getrek en vir hom daar ’n stad gebou en dit Lus genoem. Dit is nou nog die stad se naam.

27. Die stam van Manasse kon nie daarin slaag om die dorpe Bet-San, Taänak, Dor, Jibleam en Megiddo met die dorpe rondom hulle in te neem nie, want die Kanaäniete wat in daardie gebiede gebly het, was te sterk.

Rigters 1