23. Dieselfde dag nog het die Sadduseërs Jesus ook probeer vastrek. Hulle was die Joodse party wat nie in die lewe na die dood geglo het nie. Hulle het veral uit die ryk en belangrike families in Jerusalem gekom.
24. “Jy is mos iemand wat ander leer,” begin hulle. “Laat ons jou net herinner aan Moses se woorde: ‘As ’n getroude man sonder kinders sterf, moet sy broer met sy weduwee trou. Hulle moet dan ’n seun kry om so te sorg dat die familienaam nie uitsterf nie.’
25. Sê nou daar is ’n familie met sewe seuns. Die eerste seun trou, maar gaan dood voor hy ’n kind kon hê. Volgens Moses se wet moet die weduwee met die tweede seun trou.
26. Hy is egter ook dood sonder dat daar ’n kind is. So gaan dit met al sewe broers.
27. Uiteindelik is die vrou sonder ’n kind dood.
28. As daar dan nou ’n opstanding na die dood is, soos jy beweer, sê vir ons, met watter man gaan daardie vrou in die hemel getroud wees? Al sewe was mos hier op aarde met haar getroud.”
29. Jesus se antwoord was: “Dit is nou ’n dom vraag, veral om twee redes: julle ken nie die Skrif nie en julle onderskat die krag van God heeltemal.
30. As mense uit die dood opstaan, tel sulke dinge soos getroud wees nie meer nie. Nee, hulle gaan soos die engele geestelike wesens wees.
31. Het julle ook nog nie in julle Bybel gelees wat God oor die opstanding uit die dood sê nie? Hy sê:
32. Ek is nou nog die God van Abraham, Isak en Jakob. God is nie ’n dooie God of die God van dooies nie. Hy is die God van die lewendes. As dit so is, beteken dit Abraham, Isak en Jakob is dood of lewendig? As God, asook hierdie voorvaders, dan leef, wat sê dit van die lewe na die dood?”
33. Die mense het stil na Hom gesit en luister. Hy het hulle net al hoe meer beïndruk met die manier waarop Hy oor hierdie moeilike sake gepraat het.