Matteus 21:13-20 Die Boodskap (DB)

13. Vir die mense wat verbaas gestaan en kyk het, sê Hy toe: “Gaan lees wat in die Skrif staan:‘Die bedoeling is dat mense My moet kom aanbid hier waar Ek woon! Julle het dit egter die bymekaarkomplek van skelms en diewe gemaak.’”

14. Op die tempelplein was daar nou weer plek vir die blindes en lammes. Hulle het na Jesus toe gestroom en Hy het hulle gesond gemaak.

15. Die Joodse godsdienstige leiers het Jesus natuurlik soos valke dopgehou. Niks het hulle oë ontglip nie. Hulle het gesien hoe wonderlik Jesus die mense help. Hulle het ook gehoor hoe die kinders op die plein rondhardloop en skreeu: “Hoera, koning Dawid se Seun is hier!” Dit alles het hulle baie omgekrap.

16. Hulle konfronteer Jesus toe: “Hoor jy wat skreeu hierdie kinders oor jou?” “Ja,” sê Jesus. “Het julle dan nog nooit geleer nie: as kinders, wat nog nie eens behoorlik kan loop nie, iemand loof, verdien hy regtig daardie lof.”

17. Jesus was nie lus om verder met hulle te stry nie en is daar weg, Betanië toe. Daar het Hy die nag geslaap.

18. Die volgende môre is Jesus vroeg terug stad toe. Op pad het Hy honger begin voel.

19. Hy sien toe ’n vyeboom langs die pad en gaan soek ’n paar vye. Die boom was die ene blare, maar daar was nie ’n enkele vy nie. “Een ding is seker: niemand sal ooit weer ’n vy van hierdie boom afpluk nie,” sê Jesus toe. Dadelik het die boom wortel en tak verdroog.

20. Sy volgelinge was nogal uit die veld geslaan hieroor. “Het julle dit gesien? Hoe op aarde is dit moontlik?” vra hulle.

Matteus 21