Matteus 13:15-21 Die Boodskap (DB)

15. Hierdie mense is hardekop. Hulle hou hulle doof en blind. Daarom dring niks tot hulle deur nie. Van wat besig is om te gebeur verstaan hulle net mooi niks nie.“En wat is die gevolg? Hulle wil niks aan hulle verkeerde gesindheid teenoor My doen nie. Daarom sal Ek hulle ook nie geestelik gesond maak nie.

16. “Met julle is dit egter anders. Julle is gelukkig, want julle geestelike oë sien en julle geestelike ore hoor.

17. Baie van julle voorgeslagte wat God gedien het (soos profete en ander gelowiges wat aan God getrou was), sou wat wou gee om net hier te kon wees waar julle is. Hulle sou so graag wou hoor en sien wat julle hoor en sien. Maar natuurlik kan hulle nie, want hulle het nie die kans gehad nie.”

18. “Laat Ek nou eers vir julle verduidelik hoe julle die verhaal van die boer wat gaan saai het, moet verstaan.“Daar het saad op die voetpad geval ... Wel, baie mense luister na die boodskap van God se nuwe wêreld, maar dit sink nie in nie en hulle steur hulle nie daaraan nie.

19. Die Bose sorg dan dat daardie mense baie gou vergeet wat hulle gehoor het. Die Bose pik as’t ware die woorde uit daardie mense se gedagtes uit.

20. “Daar het ook saad in die holtes van die rotse geval ... Party mense hoor die boodskap van God en is dan baie opgewonde, maar net ’n rukkie lank. Sodra hulle geloof iets van hulle begin vra of hulle opofferings moet maak, is hulle skielik nie meer so opgewonde en oortuig van alles nie.

21. Gou bly daar niks meer van hulle sogenaamde nuwe geloof oor nie.

Matteus 13