Matteus 13:13-17 Die Boodskap (DB)

13. Daarom vertel Ek vir hulle verhale. Mense wat nie my boodskap wil hoor nie, sal hier rondstaan en nie ’n woord begryp van wat hier aangaan nie. Mense wat nie wil aanvaar dat God hier en nou werk nie, sal niks verstaan van wat besig is om te gebeur nie.

14. “Wat die profeet Jesaja gesê het, is hier net so waar: julle sal alles hoor wat gesê word, maar dit sal by die een oor ingaan en by die ander oor uit; alles sal voor julle oë gebeur, maar julle sal voorgee dat niks gebeur het nie.

15. Hierdie mense is hardekop. Hulle hou hulle doof en blind. Daarom dring niks tot hulle deur nie. Van wat besig is om te gebeur verstaan hulle net mooi niks nie.“En wat is die gevolg? Hulle wil niks aan hulle verkeerde gesindheid teenoor My doen nie. Daarom sal Ek hulle ook nie geestelik gesond maak nie.

16. “Met julle is dit egter anders. Julle is gelukkig, want julle geestelike oë sien en julle geestelike ore hoor.

17. Baie van julle voorgeslagte wat God gedien het (soos profete en ander gelowiges wat aan God getrou was), sou wat wou gee om net hier te kon wees waar julle is. Hulle sou so graag wou hoor en sien wat julle hoor en sien. Maar natuurlik kan hulle nie, want hulle het nie die kans gehad nie.”

Matteus 13