31. Die godsdienstige leiers van die Jode het net so te kere gegaan. Hulle het Jesus onder mekaar gespot: “Dit help nou veel. Ander kon hy help,” het hulle gesê, “maar nou kan hy homself nie eens uit die moeilikheid help nie.
32. Laat ons nou ’n bietjie sien hoe die redder wat kamma die koning van Israel wil wees van die kruis afklim. Dan kan ons ook darem sien en glo.” Die twee diewe wat langs Hom gehang het, het Hom ook gespot en beledig.
33. Teen twaalfuur die middag het dit donker geword in daardie gebied. Dit het donker gebly tot so drie-uur die middag.
34. Toe skree Jesus hard: “Eloï, Eloï, lemá sabagtani?” oftewel: “My God, my God, waarom het U My alleen gelaat?”
35. Van die omstanders het Jesus gehoor en gesê: “Luister, hy roep Elia.”
36. Een van hulle bring toe vinnig ’n spons wat in wyn gedruk is. Hy sit die spons op ’n stok sodat Jesus kon drink en sê: “Los hom nou uit sodat ons kan sien wat gaan gebeur. Miskien kom haal Elia hom van die kruis af.”