Markus 11:7-16 Die Boodskap (DB)

7. Toe hulle met die donkie by Jesus kom, gooi hulle van hulle klere oor die donkie se rug. Jesus klim toe op die donkie. Die mense was baie opgewonde en wou wys dat Jesus baie spesiaal is.

8. Baie van hulle het los stukke klere op die pad voor Hom oopgegooi terwyl ander die pad besaai het met groen takkies en blare wat hulle langs die pad gepluk het.

9. Reg rondom Jesus het mense begin skree: “Hoera! Prys Hom wat in die Naam van die Here self kom.

10. Hy gaan heers soos ons groot koning Dawid eens op ’n tyd geheers het. Mag God hierdie heerskappy groot en wonderlik maak. Prys God in die hemel!”

11. Toe Jesus in Jerusalem aankom, is Hy dadelik na die tempel toe. Hy het ’n bietjie daar rondgekyk, maar dit was al laat. Daarom het Hy en sy volgelinge besluit om na Betanië terug te gaan.

12. Die volgende dag is Jesus-hulle terug Jerusalem toe. Op pad het Jesus honger geword.

13. Hy sien toe ’n entjie van hulle af ’n vyeboom met blare aan. Hy gaan kyk toe of daar iets aan die boom is om te eet. Dit was ongelukkig nie vyetyd nie, met die gevolg dat die boom net vol blare was.

14. “Niemand sal ooit weer van jou vrugte eet nie,” sê Jesus toe vir die boom. Sy dissipels het Hom dit hoor sê.

15. In Jerusalem is Jesus dadelik tempel toe. Langs die tempelgebou was daar ’n groot plein. Daar was ’n muur om sodat dit as deel van die tempel beskou is. Daar was ’n hele bedrywigheid soos die mense diere gekoop en verkoop het wat nodig was vir die offers in die tempel. Daar en dan het Jesus al die besigheidsmense begin uitjaag. Daar was ook mense wat geld geruil het. Daar kon jy jou geld omruil vir die regte geld wat vir die tempelbelasting nodig was. Jesus het al hulle tafels omgekeer en die stoele van die duiweverkopers omgestamp.

16. As iemand nog iets deur die plein wou dra om te gaan verkoop, het Jesus hom voorgekeer en uitgejaag.

Markus 11