1. Van daar af is Jesus in ’n suidelike rigting na Judea toe. Hulle is aan die oorkant van die Jordaan langs. Mense het weer om Jesus saamgedrom en soos Hy gewoonlik gemaak het, het Hy hulle van God vertel.
2. Van die streng godsdienstige Fariseërs het ook by die groep aangesluit. Hulle wou kyk of Jesus Hom nie dalk kon vaspraat en so in die moeilikheid beland nie. Hulle vra Hom toe: “Mag ’n man van sy vrou skei?”
3. “Wat het Moses vir julle in sy wet gesê?” vra Jesus toe.