Lukas 6:6-10 Die Boodskap (DB)

6. Op ’n ander sabbatdag het Jesus na ’n Joodse sinagoge toe gegaan waar die mense bymekaargekom het om God te dien. Hy het hulle daar geleer. Daar was ’n man wie se regterhand heeltemal misvorm was. Dit was ineengetrek sodat hy dit glad nie kon gebruik nie.

7. Die skrifkenners en die Fariseërs het Jesus fyn dopgehou. Hulle wou sien of Hy dit sou waag om iemand op die sabbat gesond te maak sodat hulle Hom kon aankla dat Hy God se wet oortree.

8. Jesus het geweet hulle hou Hom dop, maar Hy het Hom nie aan hulle gesteur nie. Hy het vir die man met die misvormde hand gesê: “Kom staan hier!” Die man het dadelik opgestaan en na Jesus toe gekom.

9. Toe vra Jesus vir die godsdienstige leiers: “Sê ’n bietjie vir My: Moet ’n mens op die sabbat goed doen, of moet ’n mens slegte dinge doen? Moet ’n mens iemand anders se lewe red, of moet jy hom doodmaak?”

10. Jesus het om Hom gekyk, maar niemand het dit gewaag om iets te antwoord nie. Toe sê Hy vir die man: “Steek jou hand uit.” Hy het dit gedoen. Dit was gesond, so goed soos nuut. Die godsdienstige leiers was briesend daaroor.

Lukas 6