30. Maar Ek sal wel een teken vir julle gee: gaan kyk na die profeet Jona. Iets soortgelyks gaan met My gebeur as wat met hom gebeur het toe hy drie dae in die maag van die vis was.
31. “Maar gaan leer nog iets by Jona. Die mense van Nineve vir wie hy gepreek het, het na sy woorde geluister en hulle bekeer. Net soos Jona vir hulle ’n teken van God af was, net so is Ek, die Seun van die mens, die Teken van God vir hierdie sondige geslag.“Gaan kyk ook na die koningin van die suide wat op ’n dag na koning Salomo toe gekom het. Sy het baie ver gereis om sy wysheid te kom aanhoor. Weet julle, selfs sy sal op die laaste dag opstaan en as regter optree oor die sondige mense van hierdie geslag. Maar julle besef nie dat hier voor julle Iemand staan wat duisend maal belangriker as Salomo is nie. As die koningin van die suide bereid was om na Salomo te luister, hoeveel te meer moet julle dan nie na my woorde luister nie?
32. “Die mense van Nineve sal op die finale oordeelsdag as regters oor hierdie sondige geslag oordeel. Want hulle het hulle bekeer toe Jona met hulle gaan praat het. Dit is baie meer as wat van julle spul gesê kan word. Hier voor julle staan Iemand wat duisend maal belangriker is as Jona, en wat maak julle? Julle wil nie luister nie!”
33. “’n Mens sit nie in die aand ’n lig in jou huis aan en gaan steek dit dan onder ’n bed weg nie. Natuurlik nie. Nee, ’n mens sit ’n lig op so ’n plek in die huis dat dit vir almal kan lig gee. Dan sien hulle mos wat om hulle aangaan. Julle moet ook so maak. Wees ’n lig vir ander wat nog in die donker leef.