3. Elkeen moet vir sy ma en sy pa respek hê. Omdat Ek, die Here, julle God is, moet julle rus op die dae wat Ek daarvoor eenkant gesit het.
4. Moenie agter afgodjies aanhardloop nie. Moenie vir julleself afgode maak nie, want Ek, die Here, is mos alreeds julle God.
5. “Wanneer jy ’n offer vir die Here bring om te wys dat jou gesindheid teenoor Hom reg is, offer dit dan so dat die Here ook teenoor jou ’n goeie gesindheid kan hê.
6. Eet die vleis van hierdie offer nog op dieselfde dag wat julle dit slag. Julle kan dit selfs nog op die dag daarna eet. As daar op die derde dag nog iets daarvan oor is, moet julle dit verbrand.
7. Dit is nie vir My reg as daar nog op die derde dag van die vleis van die offer geëet word nie. Dit het dan alreeds sleg geword.
8. Iemand wat dit eet, doen boonop sonde, want hy gebruik die offer wat vir die Here gebring is vir homself. Daar is nie plek vir sulke mense in my volk nie.
9. Wanneer julle oes, moet julle nie alles tot op die kant van die land wegoes nie. Julle moet ook nie die are wat met die oes op die grond bly lê het, agterna weer gaan optel nie.
27-28. Julle moet ook nie die hare teen julle slape en die kant van julle baard afskeer en merke in julleself kerf of tatoeëermerke op julle lyf maak soos die heidene wanneer hulle oor die dooies rou nie. Ek is die Here.
29. Jy mag nooit jou dogter beskikbaar stel om afgode te aanbid nie. Jy mag haar nooit as ’n prostituut by ’n heidense tempel laat werk nie. Dit sal maak dat die land se mense agter afgode aangaan en die land vol skandelike dinge word.
30. “Wanneer dit ’n rusdag is, moet julle rus. Julle moet ook respek hê vir die plek waar mense My ontmoet om My te aanbid. Ek is die Here.
31. Moenie hulp soek by spiritiste en die geeste van dooies nie. Dit maak julle vir My onaanvaarbaar. Ek is tog die Here julle God.
32. Uit respek vir jou God moet jy staan wanneer daar oumense in die geselskap is. Jy moet hulle met agting behandel. Ek is die Here.
33-34. Moenie ’n buitelander wat tydelik by julle in die land bly, uitbuit nie. Behandel hom soos ’n gebore Israeliet. Jy moet vir hom omgee soos jy vir jouself omgee. Julle was immers in Egipte maar ook self buitelanders. Ek is die Here julle God.
35. Moenie kul as julle iets moet afmeet of dit op ’n skaal weeg of die inhoud daarvan moet bepaal nie.
36. Die skaal wat jy gebruik, die gewigte wat jy daarop sit en die houer waarin jy iets afmeet, moet korrek wees. Omdat Ek, die Here julle God, julle uit Egipte bevry het,
37. moet julle my reëls en voorskrifte volg en volgens hulle optree. Ek is die Here.”