1. Toe die hele volk veilig deur die Jordaan is, het die Here vir Josua gesê:
2-3. “Kies nou twaalf mense, een uit elke stam. Sê vir hulle om twaalf klippe uit die middel van die Jordaan, daar waar die priesters gestaan het, te gaan haal. Laat hulle hierdie klippe na die plek toe bring waar julle vannag kamp opslaan en laat hulle die klippe daar neersit.”
10. Die priesters wat die verbondsark gedra het, het in die middel van die Jordaan bly staan totdat al die Here se opdragte, wat Moses vir Josua gegee het, afgehandel was. Die volk het intussen vinnig deur die droë rivier na die oorkant toe gegaan.
11. Eers toe die hele volk deur is, het die priesters hulle met die ark van die Here gevolg.
12. Die groepe soldate uit die stam van Ruben en Gad, asook die halwe stam van Manasse, het eerste deurgegaan, soos Moses vroeër beveel het.
13. Ongeveer 40 000 van hierdie manne was reg om oorlog te maak. Hulle het deurgetrek na die vlaktes van Jerigo toe. Die Here was by hulle.
14. Die groot dinge wat die Here daardie dag deur Josua gedoen het, het die volk groot respek vir Josua laat kry. Hulle het hom, net soos vir Moses, met eerbied behandel vir die res van sy lewe.
15. Die Here het vir Josua gesê:
16. “Laat die priesters wat die ark met die getuienis dra nou uit die Jordaan uitkom.”
17. Josua het dit toe gedoen.
18. Toe die priesters wat die verbondsark gedra het, aan die ander kant van die rivier uitklim, het dit weer soos voorheen begin vloei en sy walle oorstroom.
19. Dit het alles gebeur op die tiende dag van die eerste maand. Die volk het kamp opgeslaan by Gilgal, oos van Jerigo.