Josua 2:8-21 Die Boodskap (DB)

8. Voordat die spioene uit Israel daardie aand gaan slaap het, het Ragab na hulle toe gegaan

9. en vir hulle gesê: “Ek weet die Here het hierdie land vir julle gegee. Ons almal is bang vir julle. Om die waarheid te sê, die mense bewe so bang is hulle vir julle.

10. Ons het gehoor hoe die Here die water van die Rietsee voor julle laat opdroog het toe julle uit Egipte weg is. En ons weet ook dat julle die Amoritiese konings, Sihon en Og, aan die oorkant van die Jordaan saam met al hulle mense uitgeroei het.

11. G’n wonder ons het doodbang geword toe ons dit hoor nie. Daarom het niemand die moed om julle aan te pak nie, want die Here julle God is beslis die God van die hemel daar bo en die aarde hier onder.

14. Hulle sê toe vir haar: “Ons is bereid om ons eie lewe as waarborg te gee vir julle veiligheid. As julle ons nie verraai nie, sal ons ons belofte nakom wanneer die Here hierdie land vir ons gee.”

15. Later het Ragab hulle met ’n tou deur die venster laat afsak, want haar huis was in die stadsmuur ingebou.

16. “Gaan na die bergagtige gebied toe,” het sy vir hulle gesê, “die soldate sal julle nooit daar kry nie. Kruip dan vir drie dae daar weg totdat die mense wat na julle soek, terugkom Jerigo toe. Daarna kan julle teruggaan na julle eie mense toe.”

17. Die spioene sê toe vir haar: “Ons sal die belofte nakom wat jy ons laat maak het.

18. Later, wanneer ons die land inneem, moet jy hierdie rooi tou waarmee jy ons gaan laat afsak, weer aan jou venster vasbind. Sorg ook dat jou pa en ma en jou broers en al jou pa se familielede by jou in die huis is.

19. Enigeen wat nie dan in jou huis is nie, is self verantwoordelik vir sy dood. Dan is dit nie ons skuld as hulle sterf nie. Ons sal sorg dat niemand in jou huis iets sal oorkom nie.

20. Maar onthou, as jy ons verraai, verval ons belofte.”

21. Sy het ingestem en hulle toe gehelp om weg te kom. Daarna het sy die rooi tou aan die venster vasgemaak.

Josua 2