18. Dit is soos ’n hofsaak. Elkeen wat dus in geloof vir Hom ‘ja’ sê, is deur God vrygespreek. Aan die ander kant weerklink die oordeelswoorde nou reeds oor dié wat die Seun nie gelowig aanvaar nie: ‘Julle is skuldig, want julle draai julle rug vir die unieke Seun van God!’
19. “Hoe die dinge in die hofsaak werk, kan so verduidelik word: Jesus het as die Goddelike Lig in hierdie wêreld kom skyn. Die mense het egter meer daarvan gehou om in die donker te leef as in die lig. En daar was ’n goeie rede voor: hulle dade en optrede was net ’n onheilige en slegte gekonkel. Daarom doen hulle die dinge in die donker, want hulle is bang dat almal gaan sien hoe sleg hulle dade regtig is.
20. Daarom hou mense wat sulke slegte dinge doen, niks van die lig nie en hardloop daarvoor weg.
21. As dit wat iemand doen, egter goed en sinvol is soos God dit bedoel het om te wees, hardloop hy juis na die lig toe. Hy het mos niks om weg te steek nie. Almal sal duidelik kan sien uit die dinge wat hy doen, dat hy iemand is wat aan God se kant staan en aan wie se kant God ook is.”
22. Jesus en sy volgelinge is daarna na die platteland van Judea toe en het daar so ’n rukkie uitgespan. Hulle het ook mense gedoop.
23. Johannes was weer in Enon naby Salim besig om te doop, want daar was baie water. Mense het gedurig daar opgedaag om gedoop te word.
24. (Dit was nog voordat Johannes in die tronk gegooi is.)
25. Die volgelinge van Johannes en ’n Jood het juis aan die stry geraak oor hoe ’n mens jou vir God skoon en rein kan maak.
26. Hulle is toe na Johannes self toe. “Meneer,” sê hulle, “jy onthou mos nog daardie Persoon wat daar oorkant die Jordaan by jou was. Ons praat van daardie Een oor wie jy met soveel oortuiging gepraat het. Wel, weet jy wat. Hy het ook nou begin doop, en die ergste is, al die mense stroom na Hom toe.”
27. “Die mens kry nie bloot net iets nie,” begin Johannes toe. “Alles wat hy het, word deur God aan hom gegee.
28. Julle weet mos ek het gesê ek is nie die Christus nie. Ek is maar net soos ’n boodskapper voor Hom uitgestuur.
29. “Laat ek vir julle ’n voorbeeld gee: die bruid is net bedoel vir die bruidegom en oor húlle gaan die troue. Die vriend van die bruidegom, die strooijonker, help maar net. As hy die bruidegom self hoor praat, maak dit hom baie bly. So is dit tussen my en Jesus ook. Daarom ken my blydskap nou nie einde nie.