18. In die binneplein het hulle ’n lekker vuur gemaak, want dit was koud. Die werkers en polisie het almal om die vuur gestaan om warm te kry. Petrus het ook tussen hulle gaan staan vir so ’n bietjie hitte.
19. Intussen het die hoëpriester Jesus onder kruisverhoor begin neem. Hy het Hom uitgevra oor sy volgelinge en oor wat Hy gepreek het.
20. Jesus het so op al sy vrae gereageer: “Ek het oral openlik gepraat. Die tempel en bymekaarkomplekke van die Jode was my kansel. Dáár het Ek gepreek. Ek het nie iewers in die geheim opruiende toesprake gehou nie.
21. Moet My nou nie vra om alles te herhaal nie. Gaan vra die mense wat My hoor preek het. Hulle weet wat Ek gesê het.”
22. Toe Jesus dit sê, klap een van die polisiemanne Hom. “Is dit hoe jy met die hoëpriester praat?” bulder hy.
23. “As Ek iets verkeerds gesê het, vertel My tog asseblief wat dit is. Maar as Ek nie iets verkeerds gesê het nie, vir wat klap jy My?” vra Jesus.
24. Annas stuur Jesus toe na Kajafas toe. Jesus was nog geboei.
25. Petrus het hom intussen nog daar by die vuur in die binneplein gestaan en warm maak. “Maar is jy nie een van die volgelinge van Jesus nie?” vra iemand hom.“Nee, nooit!” ontken Petrus dit.
26. “Maar het ons jou dan nie in die tuin saam met Jesus gesien nie?” vra ’n ander een hom. Dinge het nou vir Petrus begin warm word. Die een wat hom dit gevra het, was familie van Malgus wie se oor Petrus afgekap het. Boonop het hy ook nog vir die hoëpriester gewerk.
27. Petrus het weer ’n keer alles ontken. Sy woorde was skaars koud of die haan het gekraai.