Johannes 14:10-22 Die Boodskap (DB)

10. Glo julle nie dat Ek en die Vader soos een is nie? Waar Ek is, is Hy en waar Hy is, is Ek. Dink goed aan alles wat Ek al vir julle gesê het. Ek het dit nie so op my eie gesit en uitdink nie. Die Vader is by My en is deel van alles wat Ek doen. Wat Hy gedoen wil hê, doen Hy deur My.

11. Dit moet julle aanvaar: Ek is in die Vader en die Vader is in My. Vind julle dit moeilik om te glo wat Ek sê? Wel, kyk dan na wat Ek doen. Oordeel maar self of dit van God af kom of nie. Glo dan op grond van wat julle sien.

12. “Luister nou ’n bietjie hier: as iemand My vertrou, sal hy dieselfde dinge doen as wat Ek doen. Om die waarheid te sê, hy sal baie meer doen, want Ek gaan binnekort na my Vader toe.

13-14. Hoe gaan julle dit regkry om meer te doen? Om met God te praat deur middel van gebed gaan julle baie help. Ek sal vir julle gee wat julle vra, maar dan moet julle dit vra in gehoorsame afhanklikheid van My. Wat julle so vra, sal Ek gee. Dan sal julle dieselfde wonderlike dinge as Ek doen. Die gevolg sal wees dat God so deur My toedoen vereer word.

15. “As julle My liefhet, wys dit deur te doen wat Ek vra.”

16. “Ek sal met die Vader praat. Hy sal vir julle ’n spesiale Helper stuur. Hierdie Helper ken net een pad en dit is die pad van die waarheid.

17. Ek praat natuurlik van die Heilige Gees. Die Gees sal julle nooit alleen los nie, maar oral by julle wees. Julle sal gou die Gees in julle lewe herken, want Hy sal heeltemal deel word van julle. Hy sal nie net by julle wees nie, maar ook in julle. Die sondige mense sal egter nie eens weet die Gees is daar nie en die Gees sal ook nie deel van hulle lewe word nie. Hulle sal ook glad nie op die golflengte van die Gees ingestel wees nie.

18. “Ek self sal ook na ’n rukkie na julle toe terugkom. Ek sal julle nie soos verlore weeskinders hulpeloos en alleen los nie.

19. Maar wanneer Ek terugkom, sal Ek nie wees soos Ek nou is nie. Ongelowige mense sal My glad nie kan sien nie. Julle sal My goed kan ‘sien’, en weet julle hoekom? Julle sal nie meer net fisiek lewe nie, maar geestelik ook, net soos Ek.

20. Julle sal dan agterkom hoe intiem die verhouding tussen My en my Vader is. Net so intiem sal julle verhouding met My en my verhouding met julle wees.

21. “Julle sal die persoon wat My regtig liefhet duidelik kan uitken. Hy sal weet wat Ek van hom verwag en dit ook doen. As iemand so lojaal teenoor My is, sal my Vader ook lojaal teenoor hom wees. Natuurlik sal Ek self ook lojaal teenoor hom wees en Ek sal vir hom al duideliker wys wie Ek regtig is.”

22. Judas (nie Judas Iskariot nie) vra toe: “Here, hoe is dit dat U vir ons duideliker gaan wys wie U is, maar dat die ongelowiges dit nie eens sal agterkom nie?”

Johannes 14