Job 7:4-14 Die Boodskap (DB)

4. As ek in die aand bed toe gaan, wens ek dit is al die volgende môre. Maar die nagte is lank en uitgerek. Ek lê en rondrol tot die volgende oggend toe.

5. My hele lyf is vol wurms en rowe. My vel word hard en bars oop terwyl sweersel uitloop.”

6. Job het vir die Here gesê: “Daar is nie hoop vir my nie. My lewe gaan vinniger verby as wat die spoel in ’n weefraam heen en weer beweeg.

7. Here, onthou dat my lewe soos ’n asemteug is. Ek sal nooit weer goeie dinge sien gebeur of geniet nie.

8. U sien my nou net vir ’n klein rukkie. Terwyl U nog so na my sal kyk, sal ek net skielik nie meer daar wees nie.

9. ’n Wolkie raak so geleidelik weg en verdwyn dan heeltemal. Net so sal ’n mens wees wat doodgaan en nie weer terugkom nie.

10. So ’n mens is vir altyd van sy huis af weg. Almal wat hom vroeër geken het, sal van hom vergeet.”

11. Job het voortgegaan en gesê: “Ek kan nie meer stilbly nie. Ek wil praat van die swaarkry wat ek deurgaan. Ek wil kla, want ek voel bitter.

12. Is ek soos ’n see of ’n seemonster dat U iemand aanstel om my op te pas?

13. As ek gedink het dat ek kon gaan lê het en dat my bed my sou troos, het ek dit mis gehad. Ek het gedink dat ek my ellende sou kon vergeet as ek slaap.

14. Maar U het vir my drome gegee wat my banggemaak het. U het my verskriklike goed laat sien wat my nagmerries gegee het.

Job 7