1. Elihu het aangehou praat en gesê:
2. “Wees nog so ’n bietjie geduldig met my. Ek wil nog ’n paar dinge namens God sê.
3. Ek het baie voorbeelde wat ek kan gebruik om te bewys dat God regverdig optree.
4. Ek praat regtig die waarheid en my kennis is puik.
5. “God is groot, en tog sien Hy op niemand neer nie. Hy het groot mag en verstaan alles.
6. Hy laat die slegte mense doodgaan, maar Hy sorg dat mense wat swaarkry, reg behandel word.
7. Hy hou ’n oog oor mense wat reg doen. Hy gee eer aan hulle en laat hulle in konings se geselskap tuis voel. Dit sal altyd so wees.