Job 20:11-26 Die Boodskap (DB)

11. Hy is eintlik nog jonk en sterk, maar hy is op pad graf toe.

12. “Hy hou daarvan om verkeerde dinge te doen. Dit is soos om iets lekkers onder jou tong te laat smelt.

13. Hy hou dit so lank moontlik in sy mond.

14. Maar die kos in sy maag word bitter. Dit is soos dodelike gif in sy maag.

15. Hy sal die rykdom wat hy ingesluk het, weer uitbraak. God sal dit uit sy maag laat uitkom.

16. Hy sal die gif van slange suig. ’n Adder sal hom doodpik.

17. Hy is baie ryk, maar dit help hom niks nie. Hy sal nie die riviere van olie sien nie. Hy sal ook nie oorvloed van melk en heuning geniet nie.

18. Hy sal nie vir sy harde werk betaal word nie. Sy rykdom sal hom ook nie bly maak nie.

19. Hy het die arm mense uitgebuit en hulle in hulle ellende gelos. Hy het ander mense se huise wat hy nie gebou het nie, afgevat.

20. Hy was baie gulsig, hy kon net nooit genoeg kry nie. Hy het van baie dinge gedroom, maar hy sal niks daarvan oorhou nie.

21. As hy eet, bly daar gewoonlik niks oor nie. Net so sal sy voorspoed ook nie aanhou nie. Dit sal verdwyn.

22. “Hy sal nog so in weelde leef en sy rykdom geniet, dan tref die ongeluk hom. Ellendes sal hom tref soos hy nie gedink het dit kan nie.

23. Hy sal nog so sy maag vol eet, dan tref God se vreeslike woede hom. Sy woede sal soos reën op hom val.

24. Hy sal probeer wegvlug van ’n wapen wat van yster gemaak is, maar dan tref ’n koperpyl hom.

25. Die pyl sal deur sy lyf gaan en in sy ingewande vassteek. As hulle die pyl uittrek, sal ’n doodsvrees hom skielik oorval.

26. Sy besittings sal in ’n groot, donker gat verdwyn. ’n Vuur wat nie deur enigiemand aangeblaas is nie, sal hom verbrand. Die vuur sal alles opvreet wat in sy blyplek oor is.

Job 20