Job 14:12-22 Die Boodskap (DB)

12. Met mense gaan dit net so. Hulle gaan lê en staan net nooit weer op nie. Solank daar nog ’n hemel is, sal hulle nie weer wakker word nie. Hulle sal nie weer uit hulle slaap uit opstaan nie.”

13. Job het vir die Here gesê: “Ek wens U wil my tussen die dooie mense wegsteek en my daar hou totdat U nie meer so kwaad is nie. Besluit vir hoe lank U van my wil vergeet. As hierdie tyd verby is, kan U dan weer van my onthou.

14. Wanneer ’n mens doodgaan, is dit moontlik dat hy weer sal begin leef? As dit moontlik was, sou ek in my swaarkry kon vasbyt totdat ek weer ’n vry mens sou wees.

15. Dan sou U na my roep en ek sou U antwoord. U sou weer verlang na my, ek vir wie U gemaak het.

16. Dan sou U my fyn dopgehou het, maar nie om te kyk waar en wat ek verkeerd doen nie.

17. U sou die verkeerde dinge wat ek gedoen het, in ’n sak sit. Daarna sou U die sak met al die verkeerde goed toebind.

18. “Berge breek soms in stukke en verbrokkel. Rotse verskuif ook baiekeer wanneer hulle afrol.

19. Water maak dat klippe verweer en stormwater spoel grond weg. Net so laat die Here mense se hoop verdwyn. Niks bly daarvan oor nie.

20. U oorweldig mense en dan verdwyn hulle heeltemal van die toneel af. U verander hulle voorkoms en stuur hulle weg.

21. Hulle weet nooit wat van hulle kinders gaan word nie. Hulle weet nie of hulle eendag beroemd sal wees en of dit sleg met hulle sal gaan nie.

22. Hulle kan net die hele tyd aan hulle eie pyn en ellende dink.”

Job 14