11. Die Here het my baie ernstig gewaarsku om nie hierdie volk se voorbeeld te volg nie. Hy het gesê:
12. Moenie alles wat hierdie volk ’n sameswering noem net so aanvaar nie. En moenie skrik en bang wees vir alles waarvoor hulle bang is nie.
13. Onthou, die Here is die Almagtige. As daar Een is vir wie julle bang moet wees, is dit vir Hom; daarom moet julle Hom eer.
14. Hy beplan julle ondergang. In plaas daarvan dat Hy vir julle soos ’n oorhangende rots is waaronder ’n mens kan skuil, is Hy vir die twee koninkryke van Israel soos ’n struikelblok. Vir die inwoners van Jerusalem is Hy ’n strik waarin hulle gevang word.
15. Baie van hulle sal struikel en val om nooit weer op te staan nie, baie sal in die strik gevang word.
16. Ek sal al hierdie dinge wat die Here vir my gesê het, neerskryf. My opvolgers sal dit bewaar en aan die volgende geslag oorlewer.
17. Ek vertrou op die Here. Al praat Hy nie nou met Israel nie, wag ek geduldig om te sien wat Hy gaan doen.
18. Hier is ek en die kinders wat die Here my gegee het met hulle name wat sy planne uitspel. Ons is lewende getuies in Israel van die Here die Almagtige wat op die berg Sion woon.
19. Waarom probeer julle dan dinge oor die toekoms by mediums en spiritiste uitvind? Moenie na hulle gemompel en binnensmondse gebrom luister nie. Moenie dat mense julle vertel dat die lewendes by die dooies moet gaan raad vra nie. ’n Volk moet tog hulle God vir raad vra.
20. Hou vas aan die dinge wat die Here vir julle geleer en gewys het. As mense ’n ander rigting as hierdie inslaan, is hulle toekoms duister.
21. Hulle sal verward en uitgehonger in die land rondtrek. Die honger sal so erg word dat hulle hulle koning en hulle God sal uitskel.
22. Hulle sal hulp soek in die hemel en op die aarde, maar daar sal nie vir hulle hulp wees nie, net benoudheid en pikdonker ellende.
23. Nogtans sal hierdie ellendige donker tyd nie vir altyd aanhou nie. Die gebiede van Sebulon en Naftali sal binnekort verneder word, maar in die toekoms sal die pad na die See van Galilea, die Jordaanstreek en die gebied van die heidene in ere herstel word.