Jesaja 58:3-10 Die Boodskap (DB)

3. Hulle vra vir die Here: “Sien U dit dan nie raak dat ons vir U kom vas en sonder kos bly nie? Steur U U dan nie daaraan dat ons voor U kom stil raak nie?”Die Here sê: “Ja, maar Ek sien ook raak dat wanneer julle vas, julle dit maar net gebruik om geld te maak. Julle gebruik dit as ’n verskoning om die mense wat vir julle werk net nog harder te laat werk.

4. As julle vas, loop dit uit op rusies en bakleiery onder mekaar. Julle kan mos nie op so ’n manier vir My vas en dan verwag dat Ek na julle gebede moet luister nie!

5. Op die dag dat julle vas, hou julle julleself kamtig nederig. Julle laat julle koppe vooroor hang soos ’n biesie wat geknak is. Julle trek begrafnisklere aan en julle gooi stof op julle koppe. En julle noem dit dan ’n vasdag.Dink julle nou dat dit die manier is om sonder kos klaar te kom? Is dit nou die dinge wat die Here gelukkig moet maak?

6. Nee, die vas wat Ek van julle verwag, is dat julle die mense sal vrylaat wat julle onregverdig gevange hou. Hou op om die mense wat vir julle werk, soos gevangenes te behandel.

7. Gee kos vir hulle wat niks het om te eet nie. Gee blyplek aan hulle wat nêrens het om heen te gaan nie. Gee klere vir die mense wat jy kan sien niks het om aan te trek nie. Help jou familie as hulle hulp nodig het.

8. Wanneer jy so maak, sal jy bevry word. Dit sal vinnig kom soos die lig wat met dagbreek die donker laat verdwyn. Jy sal oornag herstel. Die Here wat jou vrymaak, sal jou met sy krag van alle kante beskerm.

9. Wanneer jy dan na die Here roep, sal Hy jou antwoord. As jy God vra om jou te help, sal Hy sê: Ek kom.Hou op om mense onregverdig te behandel. Hou op om vir mekaar vinger te wys en mekaar vals te beskuldig.

10. Gee kos vir hulle wat niks het om te eet nie. Versorg hulle wat behoeftig is. Dan sal dit vir jou word soos lig wat die donker laat verdwyn, soos die son wat in die middel van die dag skyn.

Jesaja 58