1. In die veertiende jaar van koning Hiskia se regering het koning Sanherib van Assirië al die versterkte stede van Juda aangeval en hulle ingeneem.
2. Hy het toe sy persoonlike assistent met ’n groot leër van Lakis af na Jerusalem toe gestuur met die bedoeling om koning Hiskia te dwing om oor te gee. Die Assiriërs het stelling ingeneem by die waterkanaal wat die water van die boonste dam af na die stad toe gelei het. Dit was langs die pad by die stuk grond waar die mense gewerk het wat die materiaal vir die klere gekleur het.
3. Drie van Hiskia se staatsamptenare is toe af na Sanherib se persoonlike assistent toe om met hom te gaan onderhandel. Hulle was die paleisbestuurder, Eljakim (sy pa was Gilkija), die staatsekretaris, Sebna, en die hoof uitvoerende beampte van die paleis, Joag (sy pa was Asaf).
4. Sanherib se assistent wou by hulle weet waarom koning Hiskia so selfversekerd was.