Jesaja 30:8-13 Die Boodskap (DB)

8. Gaan skryf hierdie woorde op waar Juda by is en bewaar dit veilig sodat dit ’n getuienis teen hulle kan wees in die toekoms,

9. want hulle is ’n opstandige klomp leuenaars wat weier om na die Here se raad te luister.

10. Vir die profete en die sieners sê hulle: “Ons wil niks van julle visioene weet nie. Moenie julle vir ons wil kom vertel wat reg is nie. Kom vertel ons liewer wat ons wil hoor, al is dit nie wat die Here vir julle gesê het nie.

11. Gee pad voor ons met julle doemprofesieë. Ons is moeg daarvoor. Ons het meer as genoeg gehad van julle praatjies oor die heilige God van Israel. Hou op om vir ons te preek!”

12. Maar nou sê Israel se heilige God vir julle: “Julle het my waarskuwing verwerp omdat julle staatmaak op afpersing en bedrog.

13. Hierdie sonde is vir julle net so gevaarlik soos ’n stadsmuur wat begin oorhang het na die een kant toe: dit val in ’n oogwink en sonder waarskuwing om.

Jesaja 30