6. Daar sal net ’n paar mense in die land oorbly, net soos daar altyd ’n paar verlore olywe oorbly nadat ’n mens die rypes afgeslaan het. Dalk twee of drie aan die heel boonste toppe of vier of vyf aan ’n ander tak, sê die Here die God van Israel.
7. Op daardie dag sal die mense weer hulp gaan soek by die Here wat hulle gemaak het, en respek hê vir die heilige God van Israel.
8. Dan sal hulle nie meer op die altare en die afgode wat hulle self gemaak het, vertrou nie. Hulle sal nie meer die beelde van Asjera aanbid en wierook op hulle altare vir die gode brand nie.
9. In daardie tyd sal Israel se versterkte stede verlate lê, toegegroei onder die bossies, net soos die stede van die Hewiete en die Amoriete toe hulle destyds uit vrees vir die Israeliete uit hulle stede gevlug het.
10. Julle vra hoekom? Omdat jy, Israel, die rug gedraai het vir die Here wat jou nog altyd gehelp het. Julle het vergeet dat die Here altyd die rots was waar julle veilig kon wegkruip vir julle vyande. So, plant maar lote en lê die mooiste tuine aan vir julle afgode vir wie julle so lief is.