30. Elke mens sal doodgaan as gevolg van die verkeerde goed wat hy self gedoen het. Dit is die mens wat die suur druiwe geëet het se eie mond wat op ’n plooi sal trek.”
31. Die Here sê: “Die dag sal kom dat Ek ’n nuwe ooreenkoms met Israel en Juda sal maak.
32. Hierdie ooreenkoms sal nie wees soos die een wat Ek met hulle voorouers gemaak het nie. Ek het hulle destyds aan die hand gevat en uit Egipte gelei. Hulle het die ooreenkoms tussen ons verbreek. Dit het nie eens vir hulle saak gemaak dat Ek hulle liefgehad het soos ’n man sy vrou liefhet nie.
33. Maar so sal die nuwe ooreenkoms lyk wat Ek later met Israel sal maak: Ek sal dit wat Ek van hulle verwag, in hulle gedagtes plant. Hulle sal in hulle hart weet wat Ek van hulle verwag. Dan sal Ek hulle God wees en hulle sal my eie mense wees.