Jeremia 30:16-19 Die Boodskap (DB)

16. Maar dit is ook so dat die mense wat julle probeer vernietig, self deur ander vernietig sal word. Al julle vyande sal self ook gevang en na ander lande toe weggevat word. Almal wat julle probeer onderdruk, sal self voel wat dit is om deur ander mense onderdruk en uitgebuit te word. Die mense wat julle besteel, sal op hulle beurt weer deur ander mense besteel word. Mense wat dit waag om julle aan te val sal self aangeval word.”

17. Die Here sê: “Ek sal sorg dat dit weer met julle goed sal gaan. Ek sal julle wonde gesond maak. Op die oomblik praat hulle van julle as ‘mense wat verstoot is; Jerusalem vir wie niemand meer omgee nie’.

18. Maar Ek sal Israel se omstandighede verander. Ek sal hulle terugbring na hulle ou blyplek toe omdat Ek vir hulle omgee. Jerusalem sal weer op sy ou plek gebou word. Die paleis sal ook herbou word soos dit oorspronklik gelyk het.

19. Hulle sal weer vrolik wees en liedere sing omdat hulle dankbaar is. Ek sal sorg dat my mense se getalle groei. Hulle sal ’n groot volk wees wat deur ander gerespekteer word.

Jeremia 30