9. Dit was definitief ’n engel wat daar by Damaskus met hom gepraat het. Of dalk ’n gees van een van ons voorvaders.”Hierdie woorde het die humeure net verder laat opvlam.
10. Die lede van die Joodse Raad het naderhand so met mekaar gestry dat die Romeinse bevelvoerder vir Paulus se lewe gevrees het. Hy was bang dat hulle Paulus uitmekaar sou skeur. Daarom het hy sy soldate beveel om hom tussen die woedende raadslede te gaan uithaal en hom terug te vat na die Romeinse kaserne toe.
11. Daardie nag het die Here aan Paulus verskyn en vir hom gesê: “Moenie moedeloos word nie. Jy was ’n goeie getuie vir My hier in Jerusalem. Jy sal dit ook nog in Rome doen.”
12. Die volgende oggend het ’n sekere groepie Jode besluit om Paulus dood te maak. So vasbeslote was hulle om dit te doen dat hulle ’n belofte voor God afgelê het dat hulle niks sou eet of drink voordat Paulus dood was nie.
13. Meer as 40 mans het hierdie belofte gemaak. Daarna het hulle na die godsdienstige leiers van die Jode toe gegaan en vir hulle gesê: “Ons het ’n plegtige belofte voor God afgelê dat ons niks oor ons lippe sal neem voordat ons Paulus doodgemaak het nie.
14. Ons plan is: u as Joodse Raad moet die bevelvoerder van die Romeine amptelik versoek om Paulus weer voor u te laat verskyn. Sê vir hom u wil Paulus se saak verder ondersoek.
15. Los die res vir ons. Ons sal sorg dat die man dood is voordat hy ’n voet naby u raadsaal sit.”
16. Paulus se suster se seun het van die komplot teen hom te hore gekom. Hy het dadelik na die Romeinse kaserne gegaan en Paulus daarvan vertel.
17. Paulus het toe een van die kapteins nader geroep en vir hom gesê: “U moet hierdie jongman asseblief dadelik na die bevelvoerder toe neem. Hy het iets belangriks om vir hom te sê.”
18. Dadelik het die kaptein Paulus se susterskind na die Romeinse bevelvoerder geneem en gesê: “Daardie gevangene, Paulus, het my gevra om hierdie man na u toe te bring. Hy het iets op sy hart waarvan u moet weet.”