38. “Vriende, julle moet mooi luister na wat ek vandag vir julle sê: julle moet begryp dat Jesus al julle sondes kan vergewe. Dit is die boodskap wat ek vandag aan julle bring.
39. Ja, Hy kan selfs daardie sondes van julle wegvat wat die wet van Moses nie kan wegvat nie. Elkeen wat in Jesus glo, se saak met God is weer in orde.
40. “Moenie die fout maak om hierdie boodskap te verwerp nie. Dan gaan dit van julle waar wees wat God deur een van sy boodskappers gesê het:
41. ‘Oppas, julle spul spotters. Julle gaan verbaas staan oor wat Ek onder julle gaan doen. Dit gaan so indrukwekkend wees dat julle dit nie sou glo as iemand anders julle daarvan vertel het nie. Maar dan sal dit te laat wees, want Ek gaan julle vernietig.’”
42. Toe die diens in die sinagoge verby was, het die mense vir Paulus gevra om weer die volgende sabbat met hulle oor Jesus te kom praat. Terwyl hulle begin huis toe gaan, het ’n groot groep Jode en ’n klompie persone wat hulle vroeër tot die Joodse geloof bekeer het, agtergebly.
43. Paulus en Barnabas het nog lank met hulle gepraat. Hulle het vir die mense gesê: “Hou altyd net aan God se goedheid vas. Glo in Christus!”
44. Op die volgende sabbat het omtrent die hele stad se inwoners by die sinagoge opgedaag om na die Here se woord te kom luister.
45. Toe die Jode die groot skare sien, het hulle groen van jaloesie geword. Hulle het daar voor almal begin om Paulus te beledig en om lasterlike dinge teen Jesus te sê.