Handelinge 12:9-19 Die Boodskap (DB)

9. Petrus het agter die engel begin aanstap. Hy het gedink dat hy weer besig was om ’n visioen te sien. Intussen het hulle by al die wagte verbygestap tot reg voor die groot ysterhek wat na die stad toe lei. Die hek het vanself oopgegaan.

10. Die engel en Petrus het saam buitetoe gestap. ’n Straatblok van die tronk af het die engel skielik verdwyn. Petrus het toe eers besef dat hy nie besig was om te droom nie. Opgewonde het hy vir homself gesê:

11. “Die Here het regtig ’n engel gestuur om my uit Herodes se hande te kom red. Hy het gesorg dat ek nie voor die Jode verhoor hoef te word nie.”

12. Petrus het vinnig na die huis van Maria, die ma van Johannes Markus, gestap. ’n Groot groep gelowiges het daar saamgebid.

13. Toe hy aan die voordeur klop, het ’n bediende met die naam Rodé kom kyk wie dit was. Sy was bly toe sy hoor dat dit Petrus is.

14. Sy het na binne gehardloop en opgewonde vir almal gesê: “Petrus staan by die deur!”

15. Maar die gelowiges het haar nie geglo nie. “Jy is van jou kop af!” het hulle gesê. “Nee, dit is so. Dis regtig so,” het sy aanhou sê. “Dalk is dit sy beskermengel,” het hulle gesê.

16. Terwyl almal stry oor wie by die voordeur kon wees, het Petrus aangehou klop. Uiteindelik het hulle die deur kom oopmaak. Hulle kon hulle oë nie glo nie.

17. Onder al die opgewondenheid deur het Petrus hulle stilgemaak en vir hulle vertel hoe die Here hom uit die tronk bevry het. “Gaan sê asseblief vir Jakobus en die ander gelowiges wat gebeur het,” het hy bygevoeg. Daarna het hy na ’n ander plek vertrek.

18. Die volgende dag was daar chaos onder die soldate wat Petrus opgepas het. Hulle kon nie verklaar hoe hy so spoorloos kon verdwyn nie.

19. Herodes het dadelik ’n groot soektog na Petrus op tou gesit. Hulle kon hom nêrens opspoor nie. Herodes was so kwaad daaroor dat hy die wagte wat Petrus moes oppas, laat teregstel het. Daarna het hy besluit om ’n ruk lank in sy paleis in Sesarea te gaan bly.

Handelinge 12