Handelinge 10:4-9 Die Boodskap (DB)

4. “Kornelius!”Kornelius het groot geskrik. Hy het die engel aangestaar en gesê: “Wat is dit, Meneer?”“God het jou gebede gehoor,” het die engel geantwoord. “Al die goeie dinge wat jy vir die armes doen, het Hy ook raakgesien.

5. Daarom wil Hy hê dat jy ’n paar manne Joppe toe moet stuur.

6. Daar bly ’n man met die naam Simon. Hy word ook Petrus genoem. Jy moet hom laat haal. Hy bly daar by Simon wat leergoedere verkoop in ’n huis teen die see.”

7. Nadat die engel vertrek het, het Kornelius twee van sy huiswerkers en ’n soldaat wat ook godsdienstig was, laat haal.

8. Hy het vir hulle vertel wat gebeur het en hulle Joppe toe gestuur.

9. Die volgende dag, terwyl hierdie drie mans op pad was Joppe toe, het Petrus so teen twaalfuur die middag op die dak van die huis waar hy gebly het, geklim om te bid.

Handelinge 10