23. Hy het toe ’n klomp van sy familie bymekaargekry en Jakob se spoor gevat. Sewe dae lank het hulle Jakob in die berge van Gilead agtervolg. Hulle was naderhand kort op die hakke van Jakob en sy mense. Hulle moes net inbeweeg.
24. God het egter ingegryp en in ’n droom vir Laban, die Arameër, gesê: “Jy moet nou nie dinge te ver dryf nie. Dink mooi wat jy vir Jakob gaan sê.”
25. Laban het Jakob ingehaal. Jakob het sy tent in die bergwêreld opgeslaan en amper by hom het Laban-hulle se kamp gestaan.