8. Ek maak ook nou ’n nuwe wet. Julle moet die Judese leiers help om die tempel vir hulle God te bou. Julle moet uit die belasting wat in Wes-Eufraat betaal word, vir hulle geld gee sodat hulle met die werk kan aangaan en dit kan klaarmaak.
9. Julle moet elke dag vir die priesters in Jerusalem alles gee wat hulle nodig het om vir die God van die hemel te offer. Daar moenie te min bulle, ramme en lammers, koring, sout, wyn of olie wees nie.
10. Hulle moet vir die God van die hemel alles kan offer wat Hy wil hê. Hulle moet vir my en my seuns bid dat die Here ons voorspoedig sal maak.
11. Ek maak ook ’n wet dat enigiemand wat nie met my opdrag wil saamwerk nie, aan ’n houtbalk wat uit sy eie huis kom, opgehang moet word. Sy huis moet ’n ashoop gemaak word.
12. Mag die God wat Jerusalem as die plek vir sy tempel gekies het, elke koning of volk vernietig wat skade aan daardie tempel in Jerusalem probeer aanrig. Ek, Darius, het persoonlik hierdie wet gemaak. Dit moet presies net so gedoen word.
13. Goewerneur Tattenai van Wes-Eufraat, Setar-Bosnai en die ander ampsdraers het Darius se wet na die letter uitgevoer.
14. Die Here se boodskappers Haggai en Iddo se seun Sagaria het hulle moed ingepraat. Die leiers van Juda het flink gevorder met die bouwerk. Uiteindelik het hulle die opdrag klaargemaak wat hulle van die God van Israel en van die Persiese konings Kores, Darius en Ahasveros gekry het.
15. Die bouwerk aan die tempel is afgehandel op die derde dag van die maand Adar in die sesde jaar wat Darius koning was.
16. Die priesters en die Leviete en al die Israeliete wat uit die ballingskap teruggekom het, was baie bly om die tempel te begin gebruik.
17. Toe hulle die tempel ingewy het, het hulle altesaam 100 bulle, 200 ramme en 400 lammers geoffer. Hulle het ook ’n offer gebring vir die sonde. Hulle het vir elkeen van die twaalf families van Israel ’n bokram geoffer.
18. Hulle het die priesters en die Leviete in verskillende groepe ingedeel om hulle werk in die tempel van God in Jerusalem te doen, volgens die voorskrifte van Moses.
19. Die Judeërs wat teruggekom het, het op die veertiende dag van die eerste maand paasfees gehou.
20. Die priesters en die Leviete het hulleself man en muis opnuut aan God verbind om alles vir Hom te doen soos Hy dit van hulle verwag. Hulle het die paaslam vir hulleself en vir die ander priesters geslag en vir almal wat teruggekom het.