31. Omdat jy nes jou sussie gemaak het, sal Ek jou straf deur dieselfde dinge oor jou te bring wat haar ook getref het.”
32. Ja, dis wat die Here, die God van Esegiël, sê: “Ek laat jou uit dieselfde beker drink waaruit jou suster gedrink het. Dit is ’n beker wat tot oorlopens toe vol is met my straf. Die hele wêreld sal sien hoe Ek jou straf, en dan sal hulle vir jou lag en met jou spot omdat Ek jou verwoes het.
33. Jy sal soos ’n dronklap slinger soos Ek jou gaan slaan. Jy gaan net so swaarkry soos jou suster, Samaria.
34. Jy sal die beker wat Ek vir jou gee, moet drink tot die laaste druppel toe. Dan sal jy die beker vat en hom stukkend slaan. En jy sal jou kop teen die muur kap omdat jy sulke dom dinge aangevang het. Dis Ek, die Here, Esegiël se God, wat hier praat.
35. Jy het mos heeltemal van My vergeet. Jy het die rug vir My gedraai. En daarom,” sê die Here God, “sal jy die gevolge moet dra van jou slegte gedrag. Jy wou My mos verwerp en ignoreer!”
36. Die Here het toe vir my gesê: “Mens, kla vir Ohola en Oholiba aan. Vertel vir hulle watter afskuwelike, slegte dinge hulle gedoen het.
37. Hulle het by ander mans geslaap terwyl hulle met My getroud was. En hulle het ander mense doodgemaak. Hulle het by ander mans geslaap deur voor ander afgode neer te buig. En hulle het moord gepleeg deur hulle kinders as offers voor hulle afgode te verbrand.
38. Toe het hulle nog gegaan en my huis onrein gemaak met wat hulle gedoen het. En hulle het die sewende dag wat Ek vir rus opsy gesit het, gebruik om te werk.
39. Op dieselfde dag wat hulle hulle kinders voor hulle afgode vermoor het, het hulle in my huis ingestap en gedink hulle kan My ook aanbid!
40. “Julle twee susters het boodskappers na verre lande gestuur en gevra dat die mans van daardie lande by julle moet kom slaap. En toe hulle by julle aankom, het julle julle gebad en grimering aangesit. Julle het julle beste juwele uitgehaal en vir hierdie mans aangesit.
41. En julle het saam met hulle op julle beste meubels gaan sit. Toe het julle die wierook en olie wat Ek vir julle gekoop het, uitgehaal en dit vir hierdie mans gebruik.
42. Uit julle slaapkamer het die geluide gekom van mans wat by julle slaap. En hierdie mans wat uit die woestyn gekom het, was eintlik ’n klomp dronklappe. Maar hulle het julle beïndruk, want hulle het duur juwele vir julle saamgebring. Hulle het gesê julle is hulle koninginne.
43. Dis toe dat Ek gesê het: As hierdie mans dan nou regtig by sulke vroue wil slaap wat hulleself aan slegte dade oorgegee het, laat hulle dan maar daar slaap!
44. En dit is presies wat hulle gedoen het. Hulle het geslaap by Ohola en Oholiba, die twee prostitute wat geen skaamte ken nie.
45. Die mense wat reg leef, sal besluit wat met hierdie twee susters, die twee stede, gedoen moet word. Hulle sal hulle sien vir wat hulle is: vroue wat by ander mans slaap en mense doodmaak. En hulle sal hulle straf met die straf wat hulle verdien.”
46. So besluit die Here, die God van Esegiël, oor die twee susters: “Bring ’n hele leërmag teen hulle. Laat die soldate hulle vernietig en verwoes.
47. Hulle vyande sal hulle met klippe gooi en hulle doodmaak. Hulle sal hulle seuns en dogters doodmaak en hulle huise afbrand.
48. So sal Ek ’n einde maak aan hierdie land se slegte dade en hulle aanbidding van afgode. As Ek hierdie land straf, sal dit ander waarsku sodat hulle nie doen wat julle gedoen het nie.
49. Julle sal elke sent betaal van die skuld van julle slegte dade en julle aanbidding van afgode. Ja, Ek sal julle straf soos dit hoort. Dan sal julle weet en erken dat Ek die Here God is.”