Esegiël 20:15-25 Die Boodskap (DB)

15. “Maar daar in die woestyn het Ek vir daardie klomp mense belowe dat Ek hulle nie na die land toe sal vat wat Ek belowe het om vir hulle te gee nie. Daardie land is die mooiste land wat daar op die aarde is. Dit loop oor van goeie dinge.

16. Ek het vir hulle gesê dat hulle nie die goeie land sal sien nie omdat hulle hulle nie gesteur het aan wat Ek vir hulle sê nie. Hulle het My geïgnoreer. En hulle het nie op die sewende dag van die week gerus soos Ek hulle beveel het nie. Hulle het maar weer voor afgode gaan neerbuig en hulle aanbid.

17. Nogtans het Ek hulle weer jammer gekry en hulle nie daar in die woestyn vernietig nie.

18. “Toe het Ek hulle kinders gewaarsku en gesê hulle moet oppas dat hulle nie dieselfde pad as hulle ouers loop nie. Ek het gesê hulle moet ook nie hulleself besoedel deur afgode te aanbid nie.

19. Ek het vir hulle gesê: Ek is die Here, julle God. Doen wat Ek vir julle sê. Luister na wat Ek julle beveel.

20. Rus op die sewende dag, want die sewende dag herinner jou daaraan dat Ek die Here jou God is.

21. “Maar hierdie mense het toe ook teen My in opstand gekom. Hulle wou nie doen wat Ek beveel het nie, al het hulle geweet dat dit die enigste manier is om aan die lewe te bly. Hulle het geweier om op die sewende dag te rus. Toe het Ek hulle gedreig dat Ek hulle gaan straf omdat Ek kwaad was vir hulle. Hulle was nog in die woestyn toe dit gebeur het.

22. Maar nogtans het Ek dit nie gedoen nie. Ek het hulle nie vernietig nie om my Naam te beskerm voor die ander nasies omdat Ek belowe het om Israel uit Egipte te lei.

23. Maar Ek het wel ’n belofte gemaak terwyl my volk nog daar in die woestyn was. Ek het hulle belowe dat Ek hulle nog eendag onder die nasies gaan verstrooi

24. omdat hulle hulle nie gesteur het aan wat Ek vir hulle sê nie. Hulle het net gedoen wat hulle wou. Hulle het nie op die sewende dag gerus nie. En hulle het voor die afgode van hulle voorouers neergebuig.

25. “Daarom het Ek toegelaat dat hulle gewoontes aanleer wat geen waarde het nie en wat hulle uiteindelik hulle lewe sal kos.

Esegiël 20