13. “Daarom sê die Here, die God van Esegiël, nou: Ek maak julle geverfde muur gelyk met die grond met die storm wat Ek stuur omdat Ek baie kwaad is vir julle. Die swaar reën en die haelstene wys hoe kwaad Ek is oor julle slegte dade.
14. Ek breek julle muur tot op sy fondament af. En die dag as julle muur omval, val hy bo-op julle. Hy sal julle plat val. En dan sal julle weet en erken dat Ek die Here is!
15. “Eers dan sal my woede bedaar teen julle muur en teen almal wat die muur wit geverf het. Dan sê Ek vir julle: die muur en almal wat dit wit geverf het, is weggevee.
16. Hulle het leuens vertel en dan gesê dis Ek wat praat. Hulle het gesê daar wag vrede vir my volk en vir Jerusalem, terwyl daar nie vrede kom nie. Dit is die Here, die God van Esegiël, wat hier praat.”
17. “Mens, jy moet ook met die vroue praat wat sê dat hulle namens My praat, maar dan is dit eintlik net stories wat hulle uitgedink het.
18. Jy moet vir hierdie vroue sê die Here, die God van Esegiël, dink die volgende oor hulle: Ek gaan julle vernietig omdat julle soos ’n voëlvanger my volk in ’n net gevang het. Julle het die oumense en die jongmense met julle liegstories gevang. Julle het mense getoor om hulle in julle mag te kry sodat hulle sal doen wat julle wil hê hulle moet doen. Dink julle julle kan mense van die môre tot die aand bedrieg en daarmee wegkom? Kan jy ander in ’n net vang sonder om self in ’n net gevang te word?