17. Hierna het die Here ook nog vir my gesê:
18. “Mens, bewe van angs en vrees terwyl jy jou kos eet. En word bang elke keer as jy water drink, asof dit die laaste water is wat jy sal hê om te drink.
19. Gaan sê vir die volk die Here, die God van Esegiël, sê vir hulle die volgende oor wat die toekoms inhou vir Israel en vir die mense wat in Jerusalem bly: Hulle sal bewe terwyl hulle hulle kos eet, so bang sal hulle wees. En hulle sal klein slukkies water drink terwyl hulle wanhopig rondsoek omdat daar nie meer kos en water in hulle land oor sal wees nie. Ek sal hulle land stroop sodat daar geen kos of water sal wees nie. En Ek doen dit omdat hulle so sleg en vol geweld is.
20. Hulle stede sal tot op die grond toe afgebreek word. En niemand sal meer op die plase bly en die lande bewerk nie. Daardie dag sal julle almal weet en erken dat Ek die Here is.”
21. Die Here het weer ’n keer met my gepraat en vir my gesê:
22. “Mens, watter spreekwoord is dit wat Ek hoor wat die mense van Israel deesdae gebruik? Julle sê mos: Die tyd gaan verby. En net mooi niks word waar van al daardie verskriklike dinge wat die mense wat namens die Here praat oor ons aankondig nie.