Eksodus 40:19-31 Die Boodskap (DB)

19. Hy het die verskillende lae wat hulle vir die dak gemaak het, bo-oor die panele laat trek met die laag velle heel bo, net soos die Here gesê het hy moet maak.

20. Hy het die plat klippe waarop God sy ooreenkoms geskryf het in die ark gaan sit. Hy het die drastokke van die ark deur die ringe aan die kant daarvan gesteek en die deksel bo-op die ark op sy plek geskuif.

21. Daarna het hy die ark op sy plek laat neersit. Hy het die gordyn opgehang en die ark met die bewys van God se ooreenkoms agter die gordyn toegemaak, soos die Here gesê het.

22. Hy het toe die tafel waarop die brood kom, binne-in die tent teen sy noordelike muur voor die gordyn gaan neersit.

23. Hy het die offerbrood daarop neergesit.

24. Hy het die ligstaander ook daar gaan neersit, regoor die tafel teen die suidelike muur.

25. Hy het die lampies aan die staander vasgesit soos die Here gesê het.

26. Hy het die altaartjie vir die wierook ook in die tent laat sit, reg voor die gordyn wat in die middel hang.

27. Hy het die wierook daarop gesit en dit aan die brand gesteek, soos die Here vir hom gesê het hy moet maak.

28. By die ingang van die tent het hy toe die gordyn opgehang wat die tent toemaak.

29. Hy het die altaar vir die brandoffer reg teenoor die ingang van die tent laat sit sodat hy daarop die brandoffer en die graanoffers kon bring op die manier wat die Here vir hom voorgeskryf het.

30. Hy het die koperbak tussen die altaar en die tent laat sit. Dit is met water volgemaak sodat die werkers van die tent hulle daar kon gaan was.

31. Moses en Aäron en sy seuns het water uit hierdie bak gevat om hulle hande en voete te was.

Eksodus 40