Eksodus 23:1-8 Die Boodskap (DB)

1. “Jy moenie praatjies oor ander mense verder oorvertel as jy weet dit is nie waar nie. Jy moenie met oortreders saamsweer om saam met hulle in die hof te lieg nie.

2. Jy moenie iets doen omdat almal dit doen nie. Jy moenie saam met almal iets doen as jy weet dit is verkeerd nie. Jy moet ook nie met almal saampraat wanneer hulle die waarheid verdraai net omdat jy wil hê hulle moet van jou hou nie.

3. Jy moenie in ’n hofsaak die arm man se kant kies net omdat hy arm is en jy hom jammer kry nie.”

4. “As jy op jou vyand se bees of donkie afkom wat verdwaal het, moet jy dit dadelik na hom toe terugvat.

5. As jy ’n donkie sien wat onder sy vrag gaan lê het omdat dit vir hom te swaar was, moet jy dit nie net so laat lê nie. Gaan help sy eienaar om die donkie weer op sy voete te kry, al weet jy dis iemand wat nie van jou hou nie.

6. Jy mag ook nie in ’n hofsaak die reg verdraai net omdat iemand arm is nie.

7. Wees baie versigtig dat jy nie in bedrog betrokke raak en onskuldige en regverdige mense deur jou getuienis ter dood veroordeel word nie. Ek, die Here, kan nooit onreg goedpraat nie.

8. Jy moenie omkoopgeld aanvaar nie. Omkoopgeld maak ’n mens blind vir die waarheid en verongeluk die saak van die regverdige.

Eksodus 23