Eksodus 15:8-16 Die Boodskap (DB)

8. “U het die see opgedam toe U daarop geblaas het. Die watergolwe het gaan stilstaan soos ’n dam water. Die watergewoel het binne-in die see gaan vassteek.

9. “Die vyand het gesê:‘Ek sal Israel agtervolg en hulle aan die nek gryp. Ek sal alles by hulle vat wat ek wil. Ek sal my swaard uitpluk en hulle teen die grond vasdruk.’

10. “U het met u asem oor hulle geblaas en die see het hulle ingesluk. Hulle het soos lood gesink in daardie geweldige waters.

11. “Wie is daar onder dié wat sterk is, wat met U vergelyk kan word, Here? Wie is daar nog wat so hoog bo almal en alles uittoring? Wie kan sulke wonderlike dinge doen? Wie kan sulke wonderwerke laat gebeur?

12. U het u regterhand uitgesteek. Die aarde het die vyand ingesluk.

13. “Met u liefde wat so getrou bly, lei U die volk wat U losgekoop het. Met u groot krag vat U hulle na die land waar u groot Naam gaan woon.

14. Wanneer die volke hoor wat gebeur het, gaan hulle bewe. Vrees gaan die inwoners van Filistea aan die keel gryp.

15. Die leiers van Edom gaan hulle doodskrik. Die sterk manne van Moab se bene gaan begin bewe. Die inwoners van Kanaän se moed gaan hulle begewe.

16. Vrees en angs sal oor hulle kom. Hulle sal versteen staan voor u groot krag. Hulle sal vasgenael bly staan, Here, terwyl u volk by hulle verbytrek, die volk wat U vir Uself gekoop het, sal ongehinderd by hulle verbygaan.

Eksodus 15