Eksodus 14:1-10 Die Boodskap (DB)

1. Die Here het vir Moses gesê:

2. “Sê vir die Israeliete hulle moet wegdraai en kamp gaan opslaan by Pi-Hagirot, tussen Migdol en die see. Dit is regoor Baäl-Sefon naby die see.

3. Die farao sal dan dink dat die Israeliete verdwaal en in die woestyn vasgeval het.

4. Ek gaan die farao weer hardkoppig maak. Hy gaan die Israeliete agternasit. Die farao en sy hele weermag sal uiteindelik voor My moet buig. Egipte sal moet erken dat Ek die Here is.” Die Israeliete het toe so gemaak.

5. Toe die koning van Egipte hoor waarheen die Israeliete op pad is, het hy en sy leiers hulle besluit verander. Hulle het gesê: “Wat op aarde het ons besiel om die Israeliete sommerso te laat wegkom?”

6. Die farao het sy oorlogswa en sy perde laat inspan om hulle met sy troepe agterna te sit.

7. Hy het 600 waens uitgesoek. Op elkeen was daar drie manne.

8. Die Here het die farao kop laat verloor. Hy het soos ’n mal ding agter die Israeliete aan gestorm. Die Here het Israel egter teen die Egiptenaars beskerm.

9. Die Egiptenaars met die farao se oorlogswaens en sy perde en sy hele leërmag is agter die Israeliete aan. Hulle het die Israeliete ingehaal waar hulle by die see kamp opgeslaan het by Pi-Hagirot, regoor Baäl-Sefon.

10. Terwyl die farao al nader kom, het die Israeliete hulle nekke gerek om te sien wat aan die gang is. Toe hulle sien dis die Egiptenaars wat agter hulle aan is, het hulle hulle boeglam geskrik. Hulle het die Here begin soebat om hulle tog te help.

Eksodus 14