Efesiërs 2:5-11 Die Boodskap (DB)

5. Nee, omdat God so goed is, sonder dat julle iets daarvan verdien, is julle uit die kloue van die sonde gered. Julle is nou Jesus s’n, en wat Jesus s’n is, is julle s’n.

6. Saam met Jesus is ons, wat soos dooie mense nie eens van God geweet het nie, lewend gemaak. Saam met Christus Jesus sit ons ook nou op ’n spesiale plek by God in die hemel.

7. Niemand sal nou, of in die toekoms, ooit kan twyfel aan hoe goed God regtig is nie. Dit kan eintlik nie gemeet of ten volle beskryf word nie. Dit alles word vir ons saamgevat in die manier waarop God ons deur Christus Jesus gered het sonder dat ons dit enigsins verdien het.

8. Vra julle waarom julle nou juis gered is? Wel, dit is omdat God so goed is en julle Jesus so vertrou.

9. Dit is nie iets wat ons self reggekry het of kon doen nie: God het dit vir ons verniet gegee. Dit is nie iets waaroor enigeen van julle kan loop en spog nie, want dit is nie asof julle self daarvoor gewerk of dit verdien het nie.

10. Onthou, God het ons gemaak wat ons nou is. Dit is Hy wat ons nuut gemaak het omdat ons Christus Jesus s’n is. Hy het dit gedoen sodat ons reg en goed kan leef soos Hy lankal besluit het ons moet leef.

11. Julle moet onthou waar julle vroeër vandaan gekom het. Julle was nie Jode nie. Die klomp Jode, wat vreeslik klem lê op die uiterlike seremonie van die besnydenis, het die neus vir julle opgetrek omdat julle nie ook daardie hele seremonie deurgemaak het nie. Hulle het julle toegesnou en gesê: “Julle klomp onbesnedenes!” Maar die besnydenis is vir God nie so belangrik nie, want dit is iets wat mense doen.

Efesiërs 2